Skarlaken vrou met jou donker siel,
grou kloue vol skubbe, wat moet streel, maar verniel.
Met lag in jou stem, die dood in jou angel,
waar jy voorgee en lieg, vir een en vir almal.
Met sekel van gang kronkel jy - soos 'n slang,
spin jou web vir die prooi wat jy hoop om te vang.
Laster jou tong, spuug dit vuur en verraad,
vernietig my lewe deur jou woord en jou daad.
Middernagskepsel van haat en depressie,
maak die stilword in my buite die kwessie.
Uit die agterbuurte van die lewe kom jy gestrompel,
om my siel en liggaam in ellende te dompel.
Met grynslag, sinisme en vingers vol bloed,
streep en kloof jy wonde deur my gemoed.
Luiddrugtig, voortvarend, banaal - sonder skaamte,
versteur jy die ritme van vrede en kalmte.
Met spatsels bloed op 'n stukkende lewensdoek,
skilder jy verraad, stook jy onmin en kwaad.
My kruppelgang omlyn jy met pyn en vernedering,
waar jy wond en vermink, sonder vertedering.
In die hakskeen gebyt terwyl my rug gedraai was,
terwyl my pad reeds met seer en trane besaai was.
Jou kop sal ek vermorsel soos dit opgeteken staan,
jou boetegang volg waar jy ookal gaan.
Die krag van oorwinning sal helder in my skyn,
terwyl jy, die niks wat jy is, die niet in verdwyn.
Ek sal heel word en sterk word en op staan en gaan,
en jou meerdere wees, van vandag af aan.
(239 Words)
|