(Geinspireer deur en opgevoer in memoriam vir Alex van Heerden (23 Nov 1974 – 7 Des 2009). Hy was ‘n bekende trompetter, trekklavierkunstenaar, komponis, sanger, laggende grensrakker en veelkleurige betowenaar).
Hoofstuk 1.
Die Kelnerin.
Buite Alex se Kaapse Hawe Koffiekroeg bulk skeepsirenes. Vreetsame karre toet en blêr. Ligskerwe breek tru gestamper, koerante gil teatraal. Seemusikante speel langs hawebote.
Binne Alex se restaurant kom en gaan, vir inspirasie, vele trompetspelers, trieksterre, mense, komponiste, droomskrywers en wysgere. Ook figure van die nag. Sit lank genoeg en die lewe manifesteer.
Oorkant by sy tafeltjie trek ‘n pienk helikopter denker Brutus se aandag, maar hy kyk gelukkig terug na die kelnerin. Karre snor langs Alex se restaurant-dek verby die see in. Oor dit brander die plankryers in honderd voet hoë golwe, perfekte ‘tubes’, selfs seemeeue kyk in die verbyvlieg terug na die slank lyne wat die borde in die brekers se koel maagdelikheid sny.
‘Is u gereed om te bestel meneer?’ vra ‘n te stywe Jean, haar potlood gereed gelek.
‘n Daklose blou bus wieg verby met waaiende passasiers getoeris in kameras, geel vensters sonnig uitgedraai.
Oorkant die tafeltjies en plaveiteëls is potte vol blomkleure. Vandaar vlieg ‘n meisiestem lig en helder Piet-my-vrou tussen ander fluite bestem en vervleg met die gevolg dat meer duiwe krummels kom bedel.
‘Ja, ‘n koppie koffie, asseblief’ antwoord Brut.
Piet-se-vrou dra ‘n groen blos en is daarom te bewus van haar jy-weet-wat vir Bruti om nou in haar oë te kaats, net om die kleur te voel.
Tussen die Kelnerin se oogbene is nou ‘n vertikale frons. Dit herinner ons Broe aan die hofdame van ‘n hoerhuis wat hy eens leer ken het, wie mans om haar lang pinkie gedraai en in elke neusgat opgesnuif het.
Rondom die tafels rondom kekkel raaisels en woorde. Intussen maak dit nie saak nie want die son bak warm. Brutus gly lang lui oë terug in die kaalnerin se helder gelaat!
‘Met melk of room meneer?’
By ‘n ander tafeltjie sit ‘n ouerige vrou, gerimpel met ‘n bulldoggesig en gaap kort-kort rond. Oorkant haar vermoedelik swaksinnige vriend met ‘n swaaiende kop, halsband en hare onder-om stomp-af koos-styl gesny. Dit lyk darem of hulle hul tonge geniet. Buitendien, behalwe dat hul dribbel, is boele vredeliewend.
‘Room asb.’
Vanaf hul krummels vlieg duiwe oor na twee verliefdes wat inmekaar koer, haar gesig styf tussen sy hande sodat net haar helder oë en neus uitmond.
Hoofstuk 2.
Da Vinci en Lisa.
Later as dit donker word verander die dekor na ‘n Teater. Die orkes stem hul instrumente.
Vanaand stel Jack sy tromme harder, Wesley voel diep aan sy bas, en Derk stem sy klavierstem. Terwyl Alex sy trompet poets, klim ‘n vrou met ‘n selfoon teen die oor op die verhoog, staan agter die mikrofoon en sê dat ‘kleur onkeerbaar moet vloei voordat jy kan sê jy skilder’ en vee haar linkerhandvingers seduktief deur haar ruier hare. Sy leun teen ‘n blou muurskildery en luister persies, geheimsinnig. Dan sê sy dat ‘jy saamstem dat gedwonge hand aan die doek rooier mag raak maar nie kan toegee dat ‘n reënverhoog vol geel lamppale kan weerkaats nie?’.
Om die tafel langsaan die verhoog sit Eva, Doemie, Jesak en ‘n konstabel en kyk na al hierdie Jazz.
Die selfoonvrou lag kop agteroor en streel die muurgrafiti terwyl haar mikrofoon praat. ‘n Man stem ver uit sy sel.
Tussendeur vonkel sterre nat op die glastafels.
‘Jy gee my geen kans om te verduidelik nie’, sê Mona en vryf harder, meer uitasem oor die spuitverfhorison op die verhoog. Dan sê sy dat ‘jy aan ‘n web spin wat silwer blink maar geen sterk gevlerkte vlieer sal hou nie, dat jy bome skilder maar niemand wie onder hulle lê nie.
Mona kyk na Alex se kafeekat wat tier en teen haar been verbygly.
‘Nou goed dan’, sê sy ferm in die mikrofoon, ‘jy het nie tyd om verder te verduidelik nie. Vat jou verf en doek en staan op jou kop in die hoek met jou boude in jou hande. en as jy dink ek probeer snaaks wees, sal ek self die foto neem’.
Konstabel proes agter sy hand, Doemie rol sy oë en skater. Brutus en Piet se vrou koes saam weg.
Dan trrrrrrrrrrol lol die trom, iets plof oor verblindend en Leonardo tree tevoorskyn uit ‘n rookwolk! Almal klap openlik fasinerende hande. Hy buig diep en trek ‘n langsteelkwas tevoorskyn. Hy leun oor na die muur en skilder ‘n vyeboom vol appels en ‘n warm son en sê ‘Mona, dis nie hoekom ek jou verf nie, dis hoe en waarmee’.
Mona tong haar onderlip fyn nat en met ‘n mona lisa glimlag sê sy dat ‘ek jou nie sal toelaat om my wyd te ontbloot en jou verfkwas oor my te trek tot ek flus nie’.
Toe verf Leonard sy arms om Mona se lyf op Alex se smeltkroesverhoog.
Die musiek pomp harder en mense rol hul oë en skater, bekende laatnag-inhangplek op die Kaapse Waterfront.
Hoofstuk 3
Art Deko Vastrap.
Die handeklap en gefluit na ‘n vastrapnommer laat almal opwarm. Sannie Tonteldoos neem nou beheer van die mikrofoon. ‘Kyk hoe groot is die man in die maan’ sê sy en droom verlore. ‘Donker vlerke vlieg vanuit die man’ sê Mortie, vryf oor sy ken en kyk nadenkend na die geel bal. Hy is Jim Hendriks se Moses op die leadkitaar en leier van ‘Die Drake’. Hy speel die volgende lied saam as gaskunstenaar. Sy hande speel reeds ‘n warm-aar ritme op denkbeeldige snare, rooibeblink.
Die vertoning gaan voort. Almal kyk na die geplankte verhoog en bevange akoestiek. Die enigste meublement nou daarop is ‘n ou art-deko bank wydsbeen in die hoek waarin Sannie gaan lê. In die daaropvolgende chaos waarin ‘n donker gekoes en geroesmoes raserig klater, spring vlamme hoog en verlig dikblou versierde oë en blinkrooi lippe.
Toe stamp Mortis die klankversterker op die klatervloer uitgekers. Oranje vonke reën deur die silwer drade. Die snare sny middernag die vloë en vlensters oop. Bene kleur en meng in die donker vol gillende jukeboksflitse.
Stille water later styg San op ‘n maanvoël deur die venster glasgeraas van stekende skerwe. Oop, en toe weg.
Dit is prima teater, it is all the same, dis blink en dof, en reën en stof? Ons almal slaap tog elke aand êrens. Of jy dit oop of toe doen is jou saak.
Hoofstuk 4
Kelnerin van Samaria.
‘n Blinkoog kelnermeisie nader met draaiboudjies en wat van ‘n soet nagereggie mijn heer, knipoog-oogknip? Nee wat juffrou, eers net stille water vir my, ek wil graag later deurvoel na dieper grond van hierdie spyskaart.
Alex hang nou sy trekklavier oor sy skouers, en laat waai. Bas drom stem saam. Dis ‘n gesing en harde gespeel!
Maar wil u iets onthou? vra sy en ek weet toe sy is straatwys en weet van lewe en dood. Wat weet sy?
‘Nee wat, net die musiek dankie, en die bas oorverdoof amper, sjoe dit kook.’
Hier in Alex se haweteater.
Maar kyk wie is volgende op die verhoog!
Hoofstuk 5
Die Blou Veer.
Alex het die buskers ingenooi! Die decor is nou verander na ‘n Kaapse hawenag vol oranje lampe en straatmusikante. Hulle staan teen mag-nie-hier-parkeer kennisgewings en stryk snorre en viole, musikante van die sypaadjies. Onder neonflitse sing hulle en stryk lang vingers oor die snare. Luidsprekers hang oral en drom-drom blink. Glase klink en nagpakke strikdas verby onder arms en blinkgeverfde tone deur. Flash-dash; flash dash!
Niemand sien dat buite in Tafelbaai sloep water en splater skel onder die Blou Veer, groot plesierboot, se gladde keel deur. Sy vaar reg op die kaai af. Die rondstaners beduie oor die hawemuur en roep oor groot golwe wat almal sonder sambrele papnat sal spat. Op die blou dek giggel groot-oog meisies en hou die seile aan die kruis-mas stywer vas. ‘n Kopdoek seerowertipe met ‘n oogklap, armhoek en skouerpapegaai se baard waai weg.
In die hawekafees waai glase om en skuim brandertoppe bier oor bekers.
Die Blou Veer krans oor die kaai onder ‘n reënboogsproei deur en gly Alex se Teater binne tot op die verhoog. Die mas kruis deur die plafon.
Oor die luidsprekers op die dek sing ‘n vrou van iemand wie ‘n ster in haar mik geblink het, skud haar borste al hoe hoër, en stap kop agteroor van die verhoog af. Hande klap en kolligte skyn oor tafelberge en bene vir meer, meer. Alex trompetter nou hoog, Derk-hulle trap wiegend vas en oorverdowend dans die gaste.
Almal klap hande en fluit maar ‘n Konstabel sit gereed in die hoek. Hy is aan diens en moet patrollie ry te perd.
Hoofstuk 6
Graaf Fiti.
Dames en Here, op die trompet: Alex van Heerden, op die bas ‘n dieper bras, Derk en die klavier stem saam en die trom flits dromme wat die plafon behoorlik verlig, dit gaan mal hierbinne.
Buite kraai Graaf Fiti, ook bekend as Grafiti, in die hawe rond. Hy sê dat hy net ‘n bietjie rondkyk. Hy is lief om die seewind in sy vere te voel snuffel.
Fiti hoor van ver musiek in Alex se Raserige See-teater. Hy sluip in, met danspassies en ‘n kopritme, om nie aandag te trek nie, en leun lank teen ‘n muur. Sy onderste ooglede knip stadig op. Hy kyk versigtig tussen die vrolike gaste rond en bring dan ongemerk van onder sy een vlerk ‘n kan spuitverf tevoorskyn. Blitsvinnig helderblou streep hy ‘n see, strand en wolke oor die hemelblou verhoog se symuur, ‘n seemeeu of twee, ‘n riviermond, ‘n eiland en ‘n paar deinings. Hy staan terug, beskou die toneel en leun dan onder luide toejuiging met sy rug teen die blou veerboot, blikkie verf onder die vlerk. Sy voete tap met die basdrom.
Die konstabel in sy uniform met ‘n ster op die bors stop om te kyk. ‘Kan jy nou meer’ sê die sterman en klim van sy perd se rug af. Hy vryf sy ken en vroetel met sy ander hand vir sy sakboekie. Hy merk op dat een van Fiti se vere blou is. Die konstabel het nou sy reëlboekie uit en gly met sy vinger oor die alfabetiese indeling:
‘A’ – Aanrand met skerp woorde;
‘B’ – Betig deur op toon te trap.
Konstabel kyk na Fiti se vlerke en bene en lees onder ‘M’ van mure en beskadiging van eiendom. Hy blaai na ‘S’ vir straf: ‘Vasmaak vir twee dae sonder keuse van straf’.
‘Ek arresteer u, kom asb. saam!’
‘Kom asb. saam’ pappegaai Fiti die Sterman. Die Geregsdienaar vind dit nie amusant nie en staan nader aan sy perd Blits se oor en fluister iets. Blits proes met die simbale, drom met sy hoef in die stof en skud sy kop en maanhare op.
Die konstabel kyk na Fiti en sê ‘kom, klim op, of’.... Fiti weier en boots die sterman na: ‘Kom klim op, of...’ nooi hul mekaar om die beurt.
Toe flap Fiti onverwags sy vinnige vlerke en vlieg weg oor die houtboot en deinings.
Konstabel soek in sy boekie onder ‘B’ vir bewyse: ‘n Blou blik en ‘n blou veer.
Hoofstuk 7
Eva se ontkleedans.
Konstabel tel die blik spuitverf op van die verhoog. Eva staan onverwags op, en trek haar klere met wiegende heupe op maat van die musiek voor almal uit. Die trompet sny hoog. Die tromme rol en bou op. Sy is naak en onskuldig. Oë kan dit nie glo, wat gaan sy wys? Almal fluit en stamp voete. Maar sy lag net en duik hoog bo-oor konstabel die koel blou branders in en vlinderarm dieper. Niemand anders lyk lus vir swem nie.
Die trompet druk harder deur. Dit buzzz. Vlamme vonk hoog heen en weer. Doemie brand aan. ‘n See-pappegaai wie homself as ‘Saffier’ voorstel sit op die mikrofoon en strek ‘n rooi-groen vlerk. Die kolligte brand warm. Eva swem terug en Konstabel sê vir haar: ‘jy het diep geswem, was jy nie bang nie?’ trek uit en hak sy uniform en titel agter ‘n stoel vas. Eva glimlag alwetend. Die meisie van Samaria skink water. Eva droog haarself uit en trek aan.
Alex hulle speel nou ou Jazz, Quando Quando.
Saffier steek sy kop onder sy vlerk.
Hoofstuk 8
Konstabel se droom.
Konstabel stap oor na die boot. Op die kantplanke van die boeg verf hy nog ‘n blou veer wat na agter opkrul en staan trots terug om te kyk. Sy kop knik met die klavierritme. Dromme brom. Ligte flash.
Hy verf die boegpunt ‘n rapsie skerper en staan trots terug. Jesak hulle help stoot en spring op die dek. Die Blou Veer gly oor die verhoog weg in dieper water. Eva het besluit om alleen agter te bly. Sy staan op die verhoog by die riviermond en waai koebaai.
Die vermaaklike musiek verskerp en wieg golwend.
Die Blou Veer dryf die see in. Simbale sis. Konstabel snork agter die roer, Doemie praat oor die toekoms en Jesak waai vanuit die boeg. Die seile span aan die mas se suiderkruis. Die dekor verander ritmies en doef-doef kleurvol. Dan verloor hul begrip van tyd.
Jesak hulle voel nou glaserig wakker in ‘n droom. Die Blou Veer hang doodstil. Die musiek kring geluidloos in nat tydsame ritmesirkels wyer onder haar boeg uit.
Saffier is verstom en trek ‘n rooi veer uit sy geel stert.
Konstabel skrik wakker voor die stuurstok. Hy droom hy hoor ‘n trompetter skal en ver ‘n drom. Hy draai die boot daarheen. ‘n Waaier flap hard oor, ‘n duif kom op die kruis sit. Die Blou Veer seil weer! Oor die tydsirkels op die water, haal tyd in, sliesjoe, slosjoe! Hier kom Fiti land op die dek. Die trekklavier word al harder, sjoe dit skal en vonk luid.
Die Blou Veer sloes teen die verhoogstrand vas, skuim en skulpe spat oor die handeklappers naaste aan die verhoog. Alex trap vas en sing vastrap. Bas bas. Drom trom. Trekklavier krul lie la la
Hoofstuk 9
Die hemel.
Saffier strek ‘n tevrede blougroen vlerk op die mikrofoon.
Vir oulaas speel die orkes ‘n ou jazz liefdesliedjie, en Alex sing ‘Heaven, I’m in heaven’!
Verdwene in die oorverdowende gejuig pak Alex hulle hul instrumente op.
Hoofstuk 10
Die laaste Kunstenaars.
Fiti neem nou die mikrofoon en Saffier vlieg op Alex se skouer. Die Graaf wil van Konstabel weet of hy al Mozart se Simfonie nr. 40 in G minnaar bevoel het. Konstabel frons, knip sy oë van onder, staar en wonder hoekom almal lag.
Fiti haal ‘n blink kan spuitverf onder sy arm uit. Op die mure van die verhoog spuit die Graaf ‘n romantiese eilandstrand kompleet met sonsondergang.
Hy verf Molto allegro note in die agtergrond, ‘n Kers wat brand en ‘n magic fluit.
Leonardo verskyn weer skielik uit ‘n rookbal befonkte oerknal vuurwerk en verf Alex met sy arms om Eva in die laaste lig op die sand.
Silwer lag trekklavier oor middernag se vroublink rug. Kers ver-maan warm afgevloer. Snuif sy tyd uitgesnuit. Vlam kruip in warm ge-waks. Viool skadustok streel oop. Die sterre word verdoof. Alex maandonker nou warmwakker om Eva se asem uit te ken. Oor haar ken uit te mond. Fyn oor haar neus en ore te smaak, haar tong te beluister en deur haar vroulippe te fluister. Dan is sy kat, sy spinnet, dirigeer ‘n tweetyd en fluit fluit hul storie is uit.
Die trekklavier blaas sy laaste asem uit.
Die seile hang stil aan die kruis.
Alex se middernag teatergordyn val finaal af en toe. Almal klap vir oulaas lang hande en gaan slaap. Alex se HaweTeater loop leeg, slegs Safier sit kop onder sy vlerk op die doodstil mikrofoon.
Op die kaal verhoog lê ‘n blou veer.
DIE END
NASKRIF
Vir die wie ook rou is of was.
Hier sit ek in Alex se Koffiekroeg. Hy was my seun. Eva was sy vrou.
Met sy motorbotsingdood op 7 Januarie 2009, het my hele lewenswoud verdraai, versteen en verstil. Verstaanbokke het ophou herkou.
Wanneer ek met toe oë aan Alex dink steek skerp ore op. Skadu’s skuil binne. Skoenlappers vlut agteruit en vou hul vlerke toe. ‘n Groot Kruisarend kras hoër en hoër.
Ek voel so seer dat vlinders verward wegvlieg. ‘n Rooibors Koe-Koe fluit skerp en dringend. Pienk paddas stoel op boomstompe en kyk straks. Visse spring uit hul stroom omhoog en staar wydoog. Vreemde vlerke fladder agter blare.
Die groenblou aarde bol en draai al verder weg, aand en more die hoeveelste dag.
Wie sou toe al weet dat sade saai wat hoenders maai, gepikte aardbol. ‘n Kruisvlerk arend spraal sy perke waaier en swael vlanger en vloër vanwaar rooison vlamoë laer kyker. Los vere saai waar blinke spinkatte omdraai en skerp naelslypers langbeen uitrek, na die fyn draai op eie kruis vasgemaai.
Daar is neonleeus, wat dol in die lug spring en laat in die nag sing, warm in die nag, snags ja snags, flash sny blits, alles in ‘n kits.
My gemoed sweef laataand deur verligte stadstrate oor toegeskyfte gilkarre en dronk barre wat neonleeus jag. Blink refleksies van self, deur geprivatiseeerde penthouses, silwer gehysbak na vervonkelde sjampanjes en rooilip afgelekte tonge. Uitgekeelde oopgesperde gebeentes. Vermorsing van lewenstyd.
Kan ‘n twee-snydende swaard van geluk en ongeluk ‘n twee-snydende snit maak, aan die een kant lig en aan die ander kant donker. Van al die sonsit kom die nag tog terug, maar kom die son weer op oor die donkermaan se rug?
Of maak dan nie saak dat vir hul wie rou daarbuite, klou klanklose strate dofnat bewolk nader aan ‘n winterse middernag? Vir hulle bibber die reën en breek voëlvlerke aan flarde? Neseiers lê wit-geel uitgesneeu. Baardbokke lek bleek bloed van hulle vere af.
Klink amper of swaar nie kry nie? Te lekker? Asof klanklose seer sekondes nie pik - pek, pik - pek aan die rourooi stertsweer sonder verweer verveer, tydsame smart. Slanger as ‘n glinstersang rooi onder die dek behang, vervel versmag self afgeslag.
As ek na Alex verlang voel ek glaserig wakker in ‘n droom. Die Blou Veer hang doodstil. Die musiek kring geluidloos in nat tydsame ritmesirkels wyer onder haar boeg uit.
Miskien verryp die rou in hierdie langsame tyd vir dryf.
Lex van Heerden
lex@lando.co.za
Kyk gerus Alex van Heerden op die Internet.
In South Africa today security plays a vital part in any business or private home. This book and the volumes to follow, will guide you step by step through the essential precautionary measures to be taken in protecting your family and valuables. From employing security guards, evacuation of your site and security measures to burglar bars and alarms in your private home.
a Book compiled by me from experience gained after 10 years in the security industry as Industrial relations officer with Nosa qualifications, 1st Aid, fire protection and also S.O.B. grade A.